Zuid-Afrikaans persbericht: Fortuyn is een Gladjanus
Dr. Marc-Alexander Fluks
fluks at SCIENCE.UVA.NL
Sat Dec 1 12:05:55 CET 2001
REPLY TO: D66 at nic.surfnet.nl
Bron: City Press SA (Zuid Afrika)
Datum: 20 november 2001
Auteur: Gawie Keyser
URL: http://www.news24.co.za/Die_Burger/WereldBurger/0,4144,4-79_1110900,00.html
Gladjanus maak politieke buiging in Nederland
---------------------------------------------
AMSTERDAM. - Gladjanus is 'n mooi Nederlandse woord vir 'n man wat kundig
kwessies aan die orde stel en hom met slim praatjies uit allerlei diskussies
red. Die woord pas goed by Pim Fortuyn, 'n nuwe gesig op die politieke toneel
hier wat daarvoor sorg dat die gevestigde orde nogal deurmekaar geskud word.
Fortuyn se flambojante, on-Nederlandse uiterlike gee in die eerste instansie
aanleiding tot die tipering gladjanus: blink, kaalgeskeerde hoof, driedelige
krytstreeppakke en rooi satynsakdoeke. En om alles te kroon: 'n Daimler-Benz
waarin die pierewaaier-politikus die wereld vol ry.
Maar gladjanus beteken nie noodwendig lee kop nie. Fortuyn, 'n oud-hoogleraar
in sosiologie wat in die verlede binne die Partij van de Arbeid (PvdA) met die
Marxisme geflikvlooi het, gee met sy rubrieke in die weekblad Elsevier blyk
van 'n fyn aanvoeling vir die wyse waarop maatskaplike problematiek onder
gewone burgers leef.
Juis hierdie gevoel, tesame met die feit dat hy met sterk retoriese eienskappe
geseen is, het Fortuyn nou tot binne-in die nasionale politieke arena
geslinger. Vandeesmaand sal hy na alle waarskynlik as koukusleier vir 'n nuwe
politieke party, Leefbaar Nederland, aangewys word.
Die party is twee jaar gelede op plaaslike vlak gestig nadat die party groot
welslae in die stede Utrecht en Hilversum behaal het. Tekenend vir hoe
Leefbaar Nederland werk, was die radiojoggie en kroegbaas Henk Westbroek wat
in Utrecht 'n groot sege in plaaslike verkiesings behaal het deur op 'n
onopgesmukte wyse vraagstukke op die agenda te plaas wat kiesers werklik
aanspreek.
Na Utrecht het Leefbaar-partye soos paddastoele in dorpe en stede in die hele
Nederland uit die grond geskiet. Kiesers het graag gereageer op die feit dat
die Leefbaar-partye die gaping uitgebuit het wat op plaaslike vlak tussen die
gevestigde politiek en die kieser ontstaan het.
Die saad was gesaai vir Leefbaar Nederland om met die oog op die algemene
verkiesing van begin aanstaande jaar die nasionale politiek te betree.
Die vraag is nou of die party sy sukses op plaaslike vlak kan vertaal na die
nasionale politiek tydens die algemene verkiesings van aanstaande jaar.
Ironies genoeg lyk dit of juis die populistiese aanslag wat die grondslag van
die Leefbaar-partye op plaaslike vlak welslae in die nasionale arena in die
wiele sal ry. Hierby kom die regse sentimente van Pim Fortuyn wat Leefbaar
Nederland ongetwyfeld parte sal speel. Onlangs het hy byvoorbeeld verklaar dat
die Islam vandag die grootste bedreiging vir wereldvrede is. 'n Aantal
organisasies wat die belange van immigrante verteenwoordig, dreig die
politikus nou met regsgedinge.
Dit is 'n skoolvoorbeeld van 'n rubriekskrywer/akademikus wat hom soos 'n
amateur op die politieke toneel gedra. Op nasionale vlak behoort gesoute
politici van die gevestigde partye maklik met Fortuyn en die ander
Leefbaar-politici af te reken.
Dit beteken egter nie dat die Nederlandse politiek rustige vaarwaters tegemoet
gaan nie. Fortuyn het ondanks sy vele tekortkominge aangetoon dat politieke
leiers nie altyd oog het vir wat onder die mense aangaan nie. Elke jaar doen
minder en minder Nederlanders die moeite om hul kruisie by die stembus te gaan
trek. Baie kiesers huldig die mening dat Nederland so goed as voltooi is, dat
min nog gedoen hoef te word om die land te verbeter. Immers, werkloosheid kom
byna nie voor nie en die ekonomie groei elke jaar stewig, alhoewel
laasgenoemde weens die internasionale spanning weer sal terugval.
Fortuyn toon verder aan dat die gematig-regse element in Nederland nie
onderskat kan word nie. Baie van Fortuyn se gedagtegoed, met name betreffende
die instroom van asielsoekers, kan in 'n beskaafde vorm teruggevind word by
die regsliberale VVD, wat tans saam met die Arbeiders en die linksliberale
regeer.
Wat dit betref is die VVD beslis in sy noppies met die gladjanus wat, geklee
in pakke van sy, sy mond so pierewaaierig oor televisie verby praat.
Want dan kan die regse nasionale politici immers se: Ons is nie almal so nie.
--------
(c) 2001 NEWS 24
**********
Dit bericht is verzonden via de informele D66 discussielijst (D66 at nic.surfnet.nl).
Aanmelden: stuur een email naar LISTSERV at nic.surfnet.nl met in het tekstveld alleen: SUBSCRIBE D66
Afmelden: stuur een email naar LISTSERV at nic.surfnet.nl met in het tekstveld alleen: SIGNOFF D66
Het on-line archief is te vinden op: http://listserv.surfnet.nl/archives/d66.html
**********
More information about the D66
mailing list